top of page
Search

Risiville inwoners lei onder Emfuleni se onvermoë om Rand Water te betaal

VAALDRIEHOEK - Die Vryheidsfront Plus (VF-Plus) in Gauteng sê die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit se onvermoë om sy inwoners van genoeg water en elektrisiteit te voorsien, het nou oorgespoel na sy buur-munisipaliteit, die Midvaal-plaaslike munisipaliteit, wat weier om langer sy waterrekening aan Emfuleni te betaal vir watervoorsiening aan die Risiville-gemeenskap. Risiville was histories deel van die Emfuleni-munisipaliteit, maar die munisipale afbakeningsraad het Risiville by die Midvaal-plaaslike munisipaliteit ingedeel, waarna die twee munisipaliteite gedwing was om te besluit oor watervoorsiening aan Risiville. In 2011 is ‘n ooreenkoms gesluit waarvolgens Midvaal Risiville se grootmaat-waterrekening aan Emfuleni sal betaal aangesien die infrastruktuur steeds aan Emfuleni behoort. Emfuleni se skuld aan Randwater beloop nou R1,3 miljard wat gelei het tot verminderde watertoevoer aan inwoners, insluitend dié in Risiville. Die VF-Plus in Emfuleni se Gerda Senekal sê Risiville se inwoners word nou gestraf vir Emfuleni se onvermoë om sy waterskuld aan Randwater te betaal. Senekal sê die VF Plus steun ‘n interregering-bemiddeling waar die twee munisipaliteite tot ‘n vergelyk moet kom en besluit oor die toekomstige watervoorsiening aan Risiville. Die party is van mening dat die ooreenkoms gedurende ‘n raadsvergadering heroorweeg moet word om ʼn werkbare oplossing te vind.

FOTO: (Verskaf)


1 view0 comments
bottom of page